Waaraan werk ons?
Daar is 'n groot verskeidenheid van areas waar 'n klein agterstand 'n groot impak kan maak op die leerder se akademiese prestasie. Deur op die regte area te fokus en die basiese boublokke van die area te versterk sal die agterstand verminder.
Areas wat spesiale aandag in my klassies geniet is:

Perseptuele vaardighede:
Die ontwikkeling van perseptuele vaardighede in jong leerders is uiters belangrik in die vaslegging van alle toekomstige ontwikkeling en leer. Persepsie beteken om die sintuie te gebruik om inligting oor die omgewing of situasie te verkry. Die ontwikkeling van perseptuele vaardighede kan in alle vorme van leer voorkom.

Lees
Lees is so belangrik want dit is die hoof manier waarop ons inligting bekom in akademie.
Dis dus nie net belangrik om vinnig te kan lees nie, maar ook om met begrip te kan lees.
Ek fokus dus nie net op vinnige woordherkenning nie maar ook wat die woorde beteken en die lees van stories dat leerders feite leer herroep. Daar word ook gefokus op vrae en opdragte wat in toetse gevra kan word, waar die vraag of opdrag soms uit twee of meer komponente bestaan.

Spelling
Elke ouderdom het 'n sekere groep voorgeskrewe woorde wat leerders moet kan lees en korrek spel. Dus sal die onderwysers gereeld die leerders speltoetsies laat skryf.
Ek fokus op klankherkenning, leestekens en leer ook die reëls van spelling vir die leerders.

Skrif
In Graad 1 word kindertjies al geleer skryf. Lettervorming en die korrekte potloodgreep is een van die belangrikste areas waarop daar gefokus word. Hoe jonger die leerder, hoe makliker om die probleem op te los met pret aktiwiteite en oefeninge.
Leerders word geassesseer op netheid en handskrif in die Grondslagfase (Graad R-Graad 3) en dus is dit belangrik dat hulle dit van jongs af reg aangeleer word. In Senior fase is 'n netjiese handskrif en spoed belangrik vir die leerders om daaglikse klasaktiwiteite te voltooi.
Wiskundige vaardighede
Deur die loop van elke kwartaal word daar nuwe wiskundige konsepte met die leerders bespreek. Daar word gewoonlik begin met eenvoudige bewerkings en dan word die vlak van die werk al hoe moeiliker.
In my beroep sien ek gereeld leerders wat sukkel met Wiskunde omdat die basiese begrip van die som nie mooi vasgelê is nie. Daar word dan deur middel van werkkaartjies die begrip aan u kind verduidelik tot hy/sy verstaan en dan word moeiliker weergawes van die werkies geleidelik gedoen tot hy/sy weer op die regte vlak is.
NB: Fotos op die blad is van die internet af gekry om die identiteit van my leerders te beskerm.

